So effentjies langer as twee dekades gelede het ek ‘n klein plasie noordwes van Pretoria gehad.

Dit was vir my my eie klein Tuin van Eden gewees.

Met 30 vleisbeeste, 117 skape en baie hoenders (en ek bedoel baie hoenders) was ek uitermate gelukkig.

Snags het ek aan die slaap geraak in ‘n stilte wat dié stadsjapie nog nooit ervaar het nie. Dit is net onderbreek deur die jakkalse wat na mekaar roep en af-en-toe, die hoe-hoe-hoe van ‘n uil.

Die enigste dorinkie in my vlees was die grond. Dit was baie klipperig en al my pogings om groentetuine aan te lê was onsuksesvol.

Maar nou ja, ‘n mens kan ook nie alles hê nie, en ek was so gelukkig as wat ‘n man maar kan wees.

Tot een dag . . . .

Besigheid het veroorsaak dat ek sowat twee weke van die plaas af weg was; toe ek terugkom, sien ek daar het omtrent ‘n hektaar se “bossies” redelik vinnig opgekom. Dié “bossies” het egter mooi in gelid soos gewasse in ‘n saailand gestaan en ek het die goed maar uitgelos

Later het die vreemde plante snaakse vruggies begin dra wat my so half aan kersfeesboomversierings laat dink het.

Die dun vrugte met die skerperige punte het begin verkleur; sommige rooi en die ander ‘n diep groen.

Die ander plante se vrugte was eiervormig en pers.

‘n Vriend van my het een naweek kom kuier, net om sy batterye te herlaai, en ná ‘n paar Duitse moutdrankies, het ek hom gevra of hy weet wat se soort groente/vrugte dit was.

“Ja,” het hy gesê, “dis brandrissies en eiervrugte (brinjals).”

“Jegh,” het ek by my self gedink. Ek het enige kos gehaat wat regtig warm was, en ek het regtig niks, maar niks van brinjals gehou nie. Aaklig op my palaat gewees.

Die volgende Maandag het ek my voorman (en enigste voltydse plaaswerker) aangesê om die plante uit te skoffel.

Die uitdrukking van verdwasing op sy gesig en die feit dat hy dubbel seker gemaak het of ek dit uitgeskoffel wou hê, moes die gevaarligte vir my laat flikker het, maar dit het nie.

“Skoffel die dekselse goed net uit,” het ek gesê

Toe my vriend weer kom kuier het, het hy gesien die rissies en eiervrugte is weg. “Hoeveel geld het jy daarvoor gekry,” het hy gevra.

“Niks,” was my antwoord. “Ek haat die goed en het daarvan ontslae geraak.”

“Dit was nou slim van jou,” was sy sarkastiese antwoord. “Jy het omtrent R15 000 in die water gesmyt.”

Skynbaar was daar dié tyd min rissies en eiervrugte beskikbaar en die aanvraag en pryse was geweldig hoog.

Wat is dus die gemene deler tussen rissies, eiervrugte en aandele?

Dis eintlik baie eenvoudig. As jy intuïtief nie van ‘n aandeel hou nie, beteken dit nie dat die mark nie daarvan gaan hou nie. Die teenoorgestelde geld ook. As jy van ‘n aandeel hou, is dit nie te sê dat die mark daarvan sal hou nie. Deel van die uitsoek en die koop van aandele, is dat dit alles oor sentiment gaan.

Dis nou die mark se sentiment, nie joune nie.

In 2001 (of 2002) kon mens Naspers-aandele teen rondom 1120 sent per aandeel koop. In die tyd het ek by een van die groep se koerante gewerk en ‘n groepie joernaliste en sub-redakteurs het in die rookkamer (ja, daar was eens op ‘n tyd sulke goed) gesit en koffie drink en was sommer in die algemeen bekommerd oor die maatskappy se toekoms.

Een van die senior joernaliste (nou al afgetree), het by ons aangesluit en gesê: “Kêrels, gaan ‘n tweede verband op jou huis aan, verkoop jou meubels, en koop Naspers-aandele.

Ná die koor van protes, het hy bloot gesê: “Koos (Bekker) werk nie vir ‘n salaris nie. Hy word in aandele betaal. Hy sál daarvoor sorg dat die aandeelprys deur die dak vlieg.”

Ons het nie van die aandeel gehou nie, want ons was drukpers-mense en nie internet-gefokus nie.

Natuurlik het ons nie van die aandele gekoop nie . . .

En dis die ooreenkoms tussen rissies en aandele.

Maarten Roos