Die Mr Price Groep verkoop klere, huishoudelike en sportware deur middel van eie en konsessie winkels. 80% van hul verkope is deur kontant en die groep wil hierdie beleid voortsit siende dit een van die kenmerkende eienskappe is wat die groep van sy kompetisie onderskei. Hul jongste handelsopdatering vir die 13 weke geeïndig Desember 2017 het 'n verhoging van 8,3% in inkomste gerapporteer. Aanlynverkope het met 12% gestyg. Suid-Afrikaanse verkope het met 8,8% gegroei en nie-SA verkope met 4,8%. Die prys verdienste van 28 is hoër as die res van die mark en die dividendopbrengs van 2,5% is nie so aantreklik nie.

  • Die aandeel werk aan ‘n stygende wig (moontlik negatief) tussen lyn A (R283-60) en lyn B. ‘n Stygende wig is gewoonlik ‘n tegniese formasie wat beleggers waarsku dat die aandeel dalk vir die oomblik net te vinnig gestyg het, en maklik ‘n terugtrek kan veroorsaak.
  • ‘n Breek onder lyn A sal die formasie bevestig en die aandeel na R256-40 neem indien dit sou uitspeel.
  • Die 40 week bewegende gemiddelde (rooi lyn – R212-38) bevestig dat die langtermyn momentum van die aandeel steeds gesond na bo is. Eers onder lyn A en veral onder die 40 week bewegende gemiddelde kan die grafiek ernstige waarskuwings aan langtermyn beleggers deurgee.
  • Vir spekulante – verkoop of oorweeg ‘n kort verkoop (om die aandeel hoog te verkoop met die hoop om die aandeel later laer terug te koop) eers onder lyn A en gebruik dan R290-11 as keerverlies om kapitaal te beskerm. Die teikens na onder, onder lyn A is R281-45, R279-48, R274-43, R269-53, R265-12, R260-56 en R256-40.
  • Vir medium- tot langtermynbeleggers – Staak akkumulasie onder lyn A en hou julle oog op die 40 week bewegende gemiddelde.

Laat weet indien daar enige vrae is.

Groete

Frans de Klerk